Die wêreld is behoorlik aan die gons oor die nuwe voorgestelde BELA (Basic Education Laws Amendment) wetsontwerp. Wat my kop heeltemal plat maak is hoe dit ‘n kwessie vir of teen tuisonderwys geraak het.
Die nuwe wetsontwerp raak elke liewe kind en gesin in ons land se vryheid! Selfs die wat nie meer skoolpligtig is nie, aangesien die nuwe wet wil bepaal dat kinders wat nie skoolpligtig is nie (ouer as 15 jaar) nie meer ‘n keuse het ten opsigte van watter kwalifikasie hul vir matrikulasie vrystelling wil verwerf nie.
Die grootste aanval is op minderheidsgroepe, wat Afrikaans en godsdiensgroepe insluit. Die regering wil die taalbeleid van ‘n skool kan bepaal op grond van die meerderheid taal in ‘n omgewing. Hulle wil kan bepaal watter kinders in watter skole geplaas word en dan die kinders die reg gee om nie die skool se gedragskode te onderhou op grond van kulturele of godsdienstige besware. En dis net die punt van die ysberg. Daar is heelwat in die media al geskryf oor die feit dat die regering volkome beheer oor skole wil hê, sonder beheerliggaam inmenging.
Vir tuisskoler lyk dit niks beter nie. Die wet wil dieselfde beperkings op hulle plaas en dan die finansiële impak daarvan die ouers se probleem maak. Dit terwyl menigte ouers tuisonderwys as enigste opsie het omdat hulle nie plek vir hul kinders in skole kon kry nie. Elke jaar stroom daar navrae in van ouers wat in ‘n hoek gedryf is. Volgende jaar is daar reeds nie plek vir ongeveer 65 000 kinders in skole in Gauteng nie en dinge lyk nie beter in ander provinsies nie!
Vir baie kinders in ons land is die staatkurrikulum nie in hul beste belang nie. Hier onder val onder andere kinders met leergeremdhede. Dus net nog ‘n minderheidsgroep wat deur die wetsontwerp direk geraak gaan word.
Een van die grootste probleme met KABV is die oor-assessering van kinders (veral in die grondslagfase waar dit meer skade as goed doen). Baie ouers kies juis tuisonderwys om die druk te verminder. Die voorgestelde wetsontwerp gaan die teenoorgestelde effek hê. Kinders gaan deur eksterne partye geassesseer moet word (op die ouers se onkoste) wat ongelooflik meer stresvol vir kinders is as om binne ‘n bekende omgewing (soos hul skool) geassesseer te word.
En moenie dink privaatskole is jou “get out of jail for free” kaartjie nie. Die skole wet is van toepassing op ALLE skole. Daar is tans nog skole wat toegewing van die departement het om nie die staatskurrikulum te gebruik nie, maar daar is geen waarborg dat hul steeds in die toekoms die toegewing gaan kry nie. As daar na die huidige situasie gekyk word word die huidige wetgewing reeds meer streng toegepas op privaatskole en semistaatskole. In die toekoms gaan dit waarskynlik nog meer so wees. Heelwat kleiner/mikro skole is ook nie geregistreer by die departement nie juis om die wetgewing te probeer systap, maar daar word heelwat gedoen om die skole te identifiseer en hul deure te sluit.
Die belange van kinders dra weinig, indien enige, gewig by die regering. Hulle wil bloot staatsbeheer oor elke sektor van die samelewing hê.
Die grootste probleem in ons land is dat ons geen benul het hoe om saam te staan en die gemeenskaplike probleem aan te spreek nie. Dis blykbaar makliker om vingers onderling rond te wys en in die proses saam die onderspit te delf.
Is dit nie dalk tyd dat ons verby ons verskille kyk en besef dat elke ouer in die beste belange van hul kind(ers) probeer optree nie? Wie weet, jy mag dalk eendag aan die ander kant van die draad sit met jou kind(ers)/kleinkind(ers) in die skool of tuis waar jy gedink het hulle nooit sou wees nie!
Ons het net tot die 10 November 2017 om ons stemme te laat hoor. Gebruik die kans om ingelig te raak en hou op klippe gooi na die wat saam met jou in die gemors sit.
Daar is heelwat opsies as jy wil deel word van die oplossing inplaas van die probleem. As jy die wet ten opsigte van vryheid in tuisonderwys wil beskerm is daar inligting by http://pestalozzi.org/web2/en/2017/11/01/getting-to-know-bela-fact-act-sheet/.
As jy skole se vryheid wil help beskerm is een opsie https://solidariteit.co.za/vir-skole/. ‘n ander https://www.gopetition.com/petitions/petition-against-proposed-amendment-of-schools-act.html
Petisies het ongelukkig amper geen effek in ons land (buiten as dit oorhandig word terwyl goed afgebrand word nie). Die beste opsie bly dus om direk kommentaar oor die voorgestelde wetgewing aan rudman.d@dbe.gov.za te stuur. Sluit ook aan by web.facebook.com/groups/703746109818420 om ingelig te bly rondom verwikkeling in verband met die “BELA bill”.
Deel gerus as jul weet van nog opsies om teen die voorgestelde wetsontwerp kapsie te maak.
#BELAbill #homeschoolfreedom
Dis onrusbarend! Ek is bly ek het nie meer kinders op skool nie. Sterkte met al die planne…daar is altyd oplossings en agterdeure.
Dis diskremeteer teen die minderheid!!! Regering behoort glad nie in te meng.
Dankie vir die nuttige inligting.