Een van die eerste dinge wat nuwe tuisonderwysgesinne aanbeveel word om te doen is om ‘n lysie te maak van hoekom hulle besluit het om tuisonderwys te doen. Dit is ‘n nodige lysie, want daar gaan dae kom waarop jy dit gaan nodig vind om terug na die lys te gaan. Elke dag is immers nie maanskyn en rose nie en soms kom ons elkeen op ‘n punt waar ons wonder of ons die regte besluit geneem het.
Die redes waarom elke gesin besluit het om op die tuisonderwys pad te klim verskil drasties. Sommige begin as gevolg van praktiese oorwegings. ‘n Goeie, bekostigbare skool is dalk bloot net nie naby nie. Of die familie het tydelik na die buiteland verhuis en wil graag voortgaan met moedertaalonderrig. Ander is genoodsaak om die besluit te neem, omdat hulle nie plek vir hul kind(ers) in ‘n skool kon vind nie (dit gebeur ongelukkig deesdae al meer gereeld). Sommige kinders floreer net nie in die skool opset nie (boelies, leergeremdhede, begaafdheid is maar van die redes wat dit kan veroorsaak). Vir nog ander is dit ‘n godsdienstige besluit. En dan is daar natuurlik siele soos ons wat bloot verlief geraak het op die leefstyl en die voordele wat dit vir ons gesin kan bied.
Wat ek egter meer en meer besef is dat waarom mense begin nie die deurslaggewende faktor is waarom mense uiteindelik die pad end uit stap nie. Wat die groot verskil maak is wat jou motivering oor tyd word.
As jy bloot tuisonderwys doen omdat jy om welke rede ook al nie jou kind in ‘n skool kan/wil sit nie gaan daar waarskynlik ‘n dag kom wat jy dit gaan oorweeg om jou kind terug in die skool te sit. As dinge moeilik raak of daar ander opsies vir jou oopmaak is die kans goed dat jou kind weer in ‘n skool gaan opeindig.
Baie ontdek egter oor tyd dat tuisonderwys nie net ‘n uitweg is nie, maar dat dit vir hulle gesin die beste opsie is. Dat tuisonderwys ‘n leefstyl is waar kinders en gesinne kan floreer. Dat dit aanpasbaarheid bied, sodat krisisse en uitdagings deel van die lewe kan word en nie iets wat jy rondom skool moet bestuur nie. Dat onderwys oor meer as die leer van ‘n paar feite gaan. Wanneer jy werklik tuisonderwys kies, omdat dit waarde toevoeg tot jou gesin, dan eers oorweeg jy nie skool op die moeilike dae nie. Dan raak dit bloot deel van die lewe se uitdagings.
Ons almal het immers dae wat dit moeilik gaan. Soms kort ons net rus, of nuwe perspektief. More staan ons op en probeer weer. Om te bly lê is immers nie ‘n opsie nie. En dit is hoe tuisonderwys ook kan wees: Net deel van die lewe se normale siklusse van vreugde en smart.
As jou gesin besluit het om die tuisonderwys avontuur aan te pak, mag jul die vreugdes daarvan ontdek en dit werklik ‘n leefwyse maak eerder as net ‘n onderwys opsie.