4

Akademie kan wag

11 June 2018
Share

Daar is alweer ‘n beweging vir kinders om vroeër akademie geleer te word. Dit is een van die grootste probleme in moderne skole en tog is daar altyd weer ‘n groep wat voel kinders moet nog vroeër geleer word.

Dit alles word gemotiveer uit die feit dat jong kinders soos sponse is en in ‘n fraksie van die tyd iets kan leer wat ouer kinders (en volwassenes) dit kan leer. Die feit dat daar al meer en meer navorsing is wat wys dat formele onderrig op vroeë ouderdom skadelik vir kinders is, word onder die mat gevee. Al meer professionele mense staan op om ‘n swaai te probeer bring. So het die Amerikaners “Better late than early”, in Brittanje is daar weer “Too much too soon”. Maar dis asof ons so vasgevang is in die resies om kinders te hê wat slimmer is as hul maats dat ons net nie na rede kan/wil luister nie.

Die gevaarligte flikker, sirenes skree, maar ons is horende doof en siende blind. Jonger en jonger kinders lei aan depressie, , is angstig, het selfmoordneigings, klein angsaanvalle ens. Maar ons wil blykbaar nie besef dat ons die oorsaak van die probleme is nie. Dat vroeër nie beter is vir kinders se emosionele welstand nie. (Ook nie noodwendig eers vir hul akademiese welstand nie, navorsing dui juis daarop dat vroeë akademie lei tot probleme soos disleksie, onvermoë om met begrip te lees, ens.)

Maar jong kinders leer dan soveel makliker? Natuurlik. Hulle is bedoel om sponse te wees. Daar is ‘n magdom inligting wat hulle moet inneem en verwerk. Die probleem is dat ons dink dit is bedoel om akademiese inligting te wees.

Vir eeue het samelewings besef dat daar belangriker dinge was vir jong kinders om te leer as akademie. Kinders het tuis geleer lees en skyf en basiese reken. Dinge wat hul ouers vir hul kon leer. Eers op 12/13 (soms selfs later) het formele onderrig buite die huis begin.

Hoekom? Omdat mense geweet het dat daar belangriker dinge was wat kinders in die sponsie-fase moes leer. Werksetiek, interpersoonlik verhoudings, simpatie, empatie, deursettingsvermoë, geduld en en. Dit is die moeilike dinge om te leer. Kinders het saam met hul ouers gewerk en geleef. Eers wanneer hul op die drumpel van volwassenheid gestaan het het die fokus na akademie geskuif.

Die gevolg was dat kinders reeds op 13/14 emosioneel volwasse was! Daarenteen sit ons vandag met mense wat op 18/21 (en dikwels nog later) eers emosioneel volwasse is. Ons mag grappies maak oor die millinnials, maar dis gedeeltelik die skuif na akademie ipv karakter bou wat hul geskep het. Tog stoomroller ons voort. Ons gaan staan nie stil en dink wat ons kan leer uit hul gedrag nie.

Elke oomblik wat ons ‘n kind van 18 maande syfers leer of ‘n 3 jarige om te leer lees, ‘n 4/5 jarige om maalsomme te doen, is ons besig om tyd te steel van belangriker dinge. Toe hul vestibulere en motoriese stelsels moes ontwikkel sodat bo, onder, links, regs, potlootgreep, skouerstabiliteit en soveel meer vas gelê kon word moes hul by ‘n tafel sit en op papier werk (waarop hul oë nog nie kon fokus nie, omdat jong kinders versiende is en hul naby visie nog nie goed ontwikkel is nie). Ons het tyd wat hul moes leer om te werk en te deel met ander gesteel om op dinge te fokus wat hul later (miskien stadiger) kon leer.

Ouer kinders leer akademie miskien stadiger as jonger kinders, maar ouer kinders leer goeie karakter eienskappe nog moeiliker as jonger kinders. Die gesegde is nie verniet “buig die boompie terwyl hy jonk is nie”. Leer kinders goeie karakter terwyl hul jonk is en hul sal dit onthou tot in hul grysheid.

Ons span die kar voor die perde en kan dan nie verstaan hoekom dinge nie wil werk soos ons gehoop het nie. En hoe meer die akademiese druk raak hoe minder verwag ons op ander gebiede van ons kinders. Hulle hoef nie huis skoon te maak, skottelgoed te bêre, wasgoed te was ens nie, want daar bly dan nie tyd oor vir speel (wat ook belangrik is!) nie. Min besef ons dat die fisiese werk las wat ons probeer verlig, juis die plek is waar hul leer om ‘n bydra tot die samelewing te maak, leer om verantwoordelikheid te vat, leer dat daar dinge is wat jy doen nie omdat dit lekker is of jy beloon word daarvoor nie, maar omdat dit gedoen moet word.

Daar was natuurlik nog ‘n voordeel daaraan gewees om jong volwassenes eers akademie te leer. Hulle kon al vir hulself dink en redeneer. Hulle het al die onderskeiding gehad om te weet wat reg en verkeerd is. Dit is natuurlik ‘n probleem vir die wat propaganda in kinders se kele wil afdruk. Dis soveel makliker om ‘n kind te indoktrineer as ‘n volwassene. En of ons nou daarvan hou of nie daar is nooit ‘n gebalanseerde siening wat geleer word nie. Dis altyd uit een party se oogpunt, om sy siening ander se siening te maak. Geskiedenis leer ons hoe regerings dit gebruik het om hul ideologie uit te dra. Hoe hul massas oortuig het om teen rasionele denke op te tree.

Miskien is die grootste prys wat kinders betaal dat hul nooit tyd het om hul passie te ontdek nie. Dat ons hulle die wêreld instuur, sonder ‘n idee wat hul werklik gelukkig maak. Waarvoor hulle die ekstra myl sal stap, omdat dit wat hulle wil bereik vir hulle saak maak.

Dis tyd dat ons weer besef ons kinders se karakter is belangriker as hul akademie. Dat daar dinge is wat kan wag, terwyl ons werk aan dit wat werklik belangrik is!