6

Aan die mamma in die biblioteek

1 August 2018
Share

Ek moet erken dat ek effe spoed verloor het hierdie jaar. Na 2 vriendinne opmerkings gemaak het oor hoe hul wens hulle het ook dinge so onder beheer gehad soos ons “blog” ma’s, was my spoed heel gebreek.

Die laaste ding wat ek wil bereik deur die webjoernaal is om ander te laat voel dat hulle minder reg kry! Alles in die huis loop beslis nie seepglad nie. Ons spook en spartel net soos almal anders. Ons voel ons pad oop, soms suksesvol, soms nie. Dis deel van die reis waarop ons is.

Een ding wat ek wel oor die jare geleer het is dat mens dikwels deur tye gaan waar jy voel jy nie genoeg gedoen kry nie. Tog as jy later terug kyk sien jy die groei in jou kinders. Die belangrikste ding vir kinders se sukses en emosionele ontwikkeling is immers ouerbetrokkenheid. Dit gaan dus nie oor hoeveel tyd/energie/geld jy aan akademie/sport/aktiwiteite spandeer nie, maar aan die tyd, aandag en liefde (en gebede) wat jy vir jou kinders gee!

Juis omdat ek al soveel idees en inspirasie op ander se webjoernale gekry het wil ek graag weer dit wat ons doen met ander deel. Om te bemoedig en te inspireer, nie om ander minderwaardig of moedeloos te maak nie.

Met die wiskunde produkte is my gemoed ook nie beter nie. Ek hoor so dikwels hoe ouers ‘n tuisonderwys vriendelike opsie soek in AFRIKAANS, nie net los hulpbronne nie. So het ek begin werk aan ‘n program vir graad 0 tot 3, juis om die behoefte aan te spreek. Dit verg egter baie tyd en ek vorder staaaadig. My eie kinders kom immers steeds eerste.

iPhone39-001

En dan loop ek weer iemand raak wat wiskunde soek. Entoesiasties begin ek verduidelik waarmee ek besig is. ‘n Program wat deur aktiwiteite en speletjies wiskundige begrip op ‘n konkrete manier vaslê. Iets meer prakties.

Dit is dan wat ek gekonfronteer word met mense se ou idees van hoe wiskunde geleer moet word. Dis tot ‘n mate lagwekkend. Ons kan sien dat die metodes vir baie kinders nie werk nie, maar tog is ons so vasgevang in hoe ons geleer is dat ons nie die sprong wil waag om iets nuuts te probeer nie. Tog is dit ook verstaanbaar. Wiskunde word as ‘n noodsaaklikheid gesien. Niemand wil met hulle kinders ‘n wiskunde program doen wat toekomstig probleme gaan veroorsaak nie.

iPhone40-001

In die proses raak my wiele egter pap, die enjin hardloop uit brandstof. Marisa probeer moed in praat, sodat ek kan klaar maak waarmee ek begin het. Tog spook ek om weer stoom te vang.

Dan stap ek op ‘n Saterdagoggend in die biblioteek in. ‘n Mamma keer my voor om te hoor of dit ek is wat wiskunde produkte verkoop. So vertel sy dat sy my webjoernaal lees en my en die kinders herken het. Sy deel hoe sy net die vorige dag my dobbelsteen aktiwiteit uitgedruk het.

En skielik het ek weer moed. Daar is mense vir wie die webjoernaal en produkte help. Alles is tog nie verlore nie! Dankie aan die mamma in die biblioteek jy’t my weer moed gegee om hierdie olifant happie vir happie op te eet.

NS. Foto’s is van my kinders wat van die aktiwiteite en speletjies in die wiskunde program “toetsbestuur”.

iPhone41-001