1

Hoekom presteer tuisskolers?

22 August 2018
Share

As mens begin met tuisonderwys, of dit nog oorweeg, moet jy gereeld hoor dat tuisskolers nie leer om te kompeteer in die regte wêreld nie. Dat hulle nooit iewers sal kom nie.

Mettertyd besef mens egter die teendeel is waar. Tuisskolers vaar goed in die wêreld daar buite. Jy kom dan weer opmerkings tee soos “dis net tuisskolers wat die podiumplekke kry, omdat hulle meer tyd het vir oefen”. Of sportsoorte wat tuisskolers nie wil toe laat om deel te neem nie. Hulle voel tuisskolers word bevoordeel, omdat hulle harder kan oefen. Ons giggel natuurlik lekker daaroor.

Maar kom ek deel met julle die groot geheim agter tuisskolers se sukses. En nee, dit is nie omdat hulle net heeldag uur na uur dieselfde ding doen nie!

Sien baie van ons het ontdek dat minder meer is. Tuisskolers vaar beter, omdat hulle fokus op dit wat vir hul belangrik is en nie ‘n duisend en een dinge probeer doen nie.

Kom ons vat nou maar die gimnastiek as voorbeeld, want dit is die sport wat my kinders gekies het. My kinders kom nie gedaan by afrigting aan nie. Hulle het nie al vir ure gesit en konsentreer en toe nog eers gaan hokkie/rugby/netbal/koor oefen voor hulle by die gimnastiek aan kom nie. Hulle kan dus in die tyd wat hulle by die gimnastiek is die maksimum daaruit kry. Hulle oefen nie meer ure nie, hulle maak net optimaal gebruik van die tyd wat hulle het.

Ek ken heelwat van die “podium wenners” en nee, hulle oefen nie meer ure as die nie-podium-wenners nie. Inteendeel. Die een knaap wat ons ken oefen 13 ure ‘n week (steeds baie!), terwyl die seuns wat teen hom deelneem tussen 16 en 24 ure ‘n week oefen! (dit klink vir my na kindermishandeling, maar dit daar gelaat) Tog stof hy hulle uit.

Ons het onlangs proewe gehad en die skoolmamma wat saam met my daar was, was stom geslaan oor hoeveel beter haar seun die dag gedoen het. Hy’s altyd oulik, maar die dag was hy net op ‘n heel ander vlak! Sien die skool het veldskool (SOS kamp) gehad die week. Sy het hom vroeër gaan haal, sodat hy die Vrydag kon rus voor hy die Saterdag oggend vroeg moes deel neem (Watter kind slaap immers op ‘n kamp?!). Hy kon dus glad nie gimnastiek (of enige ander sport) oefen die week nie. En wa-la, die resultaat was ‘n enorme verbetering in sy prestasie! Hy was self verbaas oor hoe goed hy gedoen het.

Ek weet ons het ‘n samelewing geraak wat vasgevang is om te hol van die een ding na die volgende. Of jou kind in die skool is of tuis, julle kan afklim van die malle-gejaag-wa. En dinge rustiger vat. Kinders kan fokus op minder en beter vaar!

Dis baie beter vir hulle om dit wat hul doen, goed te doen, eerder as om ‘n klomp goed gemiddeld te doen. Dis tyd dat ons weer besef dit baat niemand om ‘n “jack of all trades” te wees nie.

Marisa Haasbroek van Oolfant het onlangs met my ‘n onderhoud oor buitemuurse aktiwiteite vir tuisskolers gehad. Gaan lees en luister gerus by http://oolfant.com/buitemuurse-aktiwiteite/