1

Wie word gemeet?

16 November 2018
Share

Dis einde van die jaar. Tyd vir prysuitdelings, jaarafsluitings, rapporte en sommer net om die afgelope jaar te evalueer. En daar is een gesprek wat ek oor en oor het met ander ma’s. Of die kinders nou tuis of by ‘n skool leer al ons mamma’s spook met dieselfde ding. Ons meet ons waarde as ma aan ons kinders se prestasie.

Hoekom doen ons dit? Hulle talente/aanleg/potensiaal is immers gawes van God en het niks te doen met ons of wat ons doen nie. Ek dink dit is omdat ons so deel van ‘n prestasie gedrewe samelewing geraak het. En sosiale media help net mooi niks. Oral lees mens al die kinders se ongelooflike prestasies en wonder waar jy dan te kort geskiet het. En natuurlik deel almal net die hoogtepunte en bly tjoepstil oor die laagtepunte!

Dis alles natuurlik ‘n rookskerm. Hoe ‘n kind tans presteer sê absoluut niks van hul toekomstige prestasie of vaardighede nie. Boekwurm wat ek nou is het ek graad 1 en 2 B’s gekry vir lees en graad 3 skoon sommer ‘n D! Genadiglik het iets iewers gebeur!!! Miskien juis omdat ek nooit besef het dat ek nie ‘n goeie leser is nie! Niemand het dit ooit uitgewys nie.

Daar is in elk geval soveel faktore betrokke by ‘n kind se prestasie op ‘n spesifiek oomblik in tyd. Waar ‘n kind se ontwikkeling op daardie gewewe oomblik is, hoe goed hul die stres van evaluasie hanteer, hoe goed hulle dit wat in hul kop is aan ander kan weergee, of dit vir hulle belangrik op daardie oomblik is, hulle emosionele toestand en natuurlik waarteen hulle gemeet word! ‘n Vis gaan beter swem as ‘n apie, maar beslis nie so goed vaar met boom klim nie!

Ek dink terug aan my groot word in in ‘n tyd wat anders bedraad was nie. Ek kyk na my eerste skoolprysuitdeling waar die toekenning was vir getroue skoolbywoning, netheid en toewyding en ywer. Tye het so verander! Karakter tel nie naastenby so baie soos toe nie. Nou gaan dit oor onderskeidings, sportspanne en trofees vir die en daai.

Dis hartseer, want waaraan ons kinders deesdae hulle waarde begin heg is hoe hul presteer. Tog is prestasie so tydelik! Dink aan al daardie matrieks wat dink hulle is so oulik tot hulle die eerste dag op universiteit instap en ontdek hulle is maar net gemiddeld.

Dis karakter wat ons iewers in die wêreld bring! Hardwerkendheid, eerlikheid, deursettingsvermoë, spanwerk, empatie: dit is die goed wat langtermyn saak maak.

So terwyl jy daar sit en wonder oor jou waarde as ‘n mamma, of die ‘n suksesvolle of minder suksesvolle jaar was, raak bietjie stil en kyk na jou kind se groei as mens. Waarmee het hy/sy ‘n jaar terug nog gesukkel en hoe het dit verbeter? Was dit dalk moeilik om met ander te deel? Of om empatie met ‘n maatjie te hê? Kan jou kind wat altyd ongeduldig was al ‘n bietjie wag vir iets? Of het die een wat sukkel met dankbaarheid begin sien wanneer daar dingetjies is om voor dankbaar te wees? Het jou kind aangehou om iets te probeer al het hy daarmee gesukkel? Kon sy sien wanneer daar iemand was wat hulp nodig gehad het? Was hy bereid om iemand te help al was daar geen beloning betrokke? Dit is waaraan ons mamma’s ons kan meet. Dit is die dinge wat ons ons kinders leer! En ja, net soos ‘n mens nie ‘n tuin in ‘n dag pragtig maak nie, is dit ook met kinders. Dis elke dag se werk oor jare om ‘n goeie eindproduk te hê! Elke dag onkruid uittrek, gereeld water gee, snoei, bemes en peste beheer.

Mamma moenie moed verloor nie! Elke dag se arbei met liefde en toewyding maak ‘n verskil!