Dit is weer daardie tyd van die jaar wat gure weer ons dikwels in die huis vasdruk. En dan is daar die pragtige sonskyndae soos vandag.

Dit is hierdie dae wat altyd ‘n twee stryd in my skep. Die kinders wil buite speel en in die tuin werk. Die sonskyn in drink. Maar dit was nie my plan vir die dag nie. Daar was werk wat gedoen moet word. Wiskunde en leer wat wag.

Dit is dae soos hierdie wat ek eers weer moet prioritiseer en dink hoekom ons tuisonderwys gekies het. Dat ons weer op ‘n reëndag leer en lees kan inpas, maar nie die vitamien D en vars grond terapie nie.

Ek moet eerlik wees dat dit nie altyd maklik is nie. Veral nie in ‘n week soos die waarin daar ekstra musieklesse is omdat die musiekeksamen volgende week is nie. ‘n Week wat reeds te min ure het tussen dit en die gimnastiek.

Hierdie mamma moet egter maar net diep asem haal en probeer ontspan. Die verlede het my darem mos al geleer dat hierdie tyd van speel en buite werk nie regtig verlore tyd is nie. Dat dit goed is vir die kinders. Nie net vir hul fisiese ontwikkeling nie, maar dat hul selfs in die proses meer leer.

En dan voel ek ook so bietjie skuldig, want terwyl hul in die grond rond krap is hul skoolmaats in die middel van eksamen. Sien ek die stres op jong gesigte en die benoude ma’s. En bo alles voel ek dankbaar. Dankbaar vir ‘n ander lewenswyse.