3

Die boksies wat druk

25 January 2021
Share

Terwyl ons kinders klein is verstaan ons dikwels dat kinders nie teen dieselfde spoed ontwikkel nie. Almal sit nie op presies 6 maande nie en loop teen 12 maande nie. Almal is ook nie van die doeke af op 2 nie.

My oudste meisiekind is amper 12 en het nog net 8 tande gewissel. Meeste van haar maats het daar getrek rondom 9! Daar is niks fout met haar nie en niks wat ek kan doen om die tande wissel aan te hits nie. Hoekom sou mens in elk geval wou?

Ons verstaan dit as dit by gewone kinderontwikkeling kom, maar glad nie as akademie in die prentjie kom nie. Dan moet elke graad 1 dieselfde werk kan baasraak. Dis effe onrealisties.

Juis om daardie rede sal jy vind dat baie tuisskolers nie vreeslik gek oor grade is nie. Meeste van hulle het ontdek dat hul kind akademies nie in een graad is nie. Hul mag ‘n graad voor wees in van die vakke en ‘n graad agter en ander.

Ek vermoed skoolma’s sien dit ook, hulle maak net nie altyd die korrelasie dat ‘n kind wat baie goed in een vak is dalk eintlik ‘n graad voor is en dat die vak waarmee hulle spook hul waarskynlik net nog in die vorige graad ontwikkelings gewys is nie.

Dit strek egter wyer as dit. Ek is oortuig die boksies (grade) waarin ons kinders plaas is ‘n groot hindernis. Nie net pootjie dit die wat dalk ‘n paar maande later eers reg is nie. Maar dit pootjie ook die wat voor is.

Hoekom sê ek so? Ek is oortuig dat kinders vasgevang word in die verwagtinge van hul graad. Dit perk hul in. Ek gaan my oudste as voorbeeld gebruik.

Vroeg reeds het ek besef sy kop werk anders. Alles om hom sien hy in hoeveelhede en patrone en die verwantskappe tussen dit. Hy sou op 5 in ‘n Playball les in gestap het en dadelik getel het hoeveel vorms daar is, seker gemaak het al die maatjies is daar (elk het ‘n vorm gehad waarop hul moes staan) en dan begin apparaat tel het en gesê het daar is te min hoepels, of twee twee kinders gaan ‘n bal moet deel.

Hy was mal oor somme maak. Daarom het ek in graad R hom reeds ingeskryf vir Living Maths se Wiskunde olimpiade se graad 1 vraestel en hy het 1ste in die land geëindig. Hy het nooit gedink dis juis ‘n prestasie nie. Dit was net iets lekkers om te doen. So het hy die volgende jaar 1ste in graad 2 gekom, en die jaar daarna 2de in graad 3.

Alles het goed gegaan tot in graad 3. Teen daardie tyd is al wat almal mos ‘n kind vra as hul hom/haar ontmoet, “Watter graad is jy?”. Ek het besef ek sal moet plan maak dat my kinders nie soos skape mense aanstaar as hul die vraag kry nie. Ek het hul dus mooi geleer dat hy in graad 3 is en jonger sus in graad 1.

En net daar het die probleme begin. Daardie jaar toe ek die graad 4 olimpiade vraestel voor hom neersit weier hy botweg om dit te skryf. Hy is nie graad 4 nie. Hy moet die graad 3 vraestel skryf. Ek het mooi gepraat, gesoebat, verduidelik hy het reeds die vorige jaar graad 3 geskryf en net een vraag verkeerd gehad.

Alles verniet. As hy graad 3 is moet hy die graad 3 vraestel skryf. So tot my groot frustrasie het hy toe maar weer graad 3 s’n geskryf. Daarna het ek hom elke jaar probeer oortuig om een graad op te probeer. Of dan ten minste na hy sy eie graad s’n geskryf het ook die volgende graad te probeer. Sonder enige sukses. In sy kop was dit net nie moontlik om ‘n graad hoër se vraestel te doen nie. Hy’t steeds goed gevaar, 2de, 1ste en 3de in die volgende 3 jaar gekom.

Laas jaar het ek weer probeer en uiteindelik tot my groot vreugde sukses behaal. Hy was bereid om na hy die graad 7 geskryf het ook die graad 8 te probeer. Ongelooflik genoeg het ek selfs sy arm gedraai om die graad 9 te skryf.

Die gevolg. Hy het 2de in graad 7 gekom en 3de in graad 8. Hy het selfs 20 van die 25 vrae vir graad 9 reggekry!!!

Voor jul dink die ma is net aan die spog (en ja ek is trots) is dit nie my punt nie. Die punt is hy het homself beperk. Hy het limiete op sy eie vermoëns geplaas en nie eers probeer om sy volle potensiaal te bereik nie. Bloot omdat hy die boksie stelsel van grade geglo het!

Ek kan net wonder waar hy sou trek as hy elke jaar wiskunde volgens sy vermoeë aangepak het ipv volgens sy graad? As hy reeds laas jaar met graad 8 werk begin het?

En nee ek dink nie ons moet kinders konstant uitdaag nie. Ek glo hul het die ruimte nodig om teen hul eie pas te ontwikkel. Ek vermoed dat ons hope kinders se potensiaal onderdruk, maar daar is ook hope kinders wat glo hulle is te dom / te stadig / nie goed genoeg nie, bloot omdat hul eintlik net ‘n paar maande ekstra nodig gehad het om daar te kom.

Daardie selfde wiskunde kind van my is een van hulle ook. Taal en lees kom nie natuurlik vir hom nie. Hy het meer tyd nodig as baie ander om dit baas te raak.

As jy die voorreg het om jou kinders tuis op te voed, benut dit ten volle. Moenie dat die boksie van grade hulle vasvang nie. Beweeg so vinnig of stadig soos dit vir hulle nodig is nie.

As jou kinders in die skool is, en jy nie so maklik uit die boks kan klim nie, is dit steeds die moeite werd om oop gesprekke met jou kind(ers) te hê. Om gereeld vir hom/haar te verduidelik dat meeste van ons nie regtig in die graad boksie pas nie. Dat jy nie slim of dom is bloot omdat jy goeie of slegte punte kry nie. Leer hul om hul eie potensiaal te bereik en dat dit goed genoeg is!