16 July 2013
Share

Die kinders gaan deur fases. Selfs na al die tyd tuis bekommer dit my soms. Daar is die ons-kan-nie-genoeg-leer fase. Na ‘n paar weke van die begin ek altyd sterk twyfel of ek ooit gaan by hou. Net soos ek egter net nie meer weet wat om volgende vir hulle te leer om die honger na nuwe inligting te stil gaan hulle skielik oor in die ons-wil-net-speel fase. As ma neem dit ook nou nie weer lank voor ek begin wonder of hulle dan nou nie te veel “agter raak”, omdat daar net gespeel word nie. Hoekom ek nog die bekommernisse het, kan ek net oor wonder. Telkemaal na al die speel  wil hulle weer net leer en wanneer hulle dan weg spring het hulle in die speel-tyd soveel nuwe dinge bemeester dat my mond altyd letterlik oop hang. Mens lees so dikwels dat kinders leer terwyl hul speel, maar tog bly dit my telkens verbaas.

Ons is nou al die jaar deur ‘n paar fases. Die grootste hiervan waarskynlik die letters leer en kan nie genoeg wiskunde doen fases. Huidiglik is ons knaap egter in ‘n kreatiewe fase. Hy wil net dinge skep en kom met die interessantste projekte vorendag. Dankie tog, dat ek nie elke dag iets hoef uit te dink nie. Natuurlik is die lego en hout skeppings en modder speel deel van die projekte.

Hier is sommer net ‘n paar van sy (en ook kleinsus) se skeppings:

DSCF3381 DSCF3385 DSCF3388 DSCF3482 DSCF3480 DSCF3479 DSCF3478 DSCF3475 DSCF3356 DSCF3355 DSCF3354 DSCF3352 DSCF3350 DSCF3373

Kleinsus is in ‘n heel ander fase. Sy het nog altyd van muise gehou, maar nou na ons Die stoutsterte gelees het is sy muis versot. Sy is op die verbeelding spel fase. Elke dag is sy een of ander dier. So tussen in was daar Lollie die leeu, ‘n geitjie en verkleurmannetjie, maar meestal (99% van die tyd) is sy ‘n muis. Wel eintlik 2. Die nag muis is Mollie en die dag muis is Meisie.

Meeste van die tyd is dit heel dierbaar en sorg vir ‘n hele paar giggels. Ek kan net dink wat al die rond kruip en spring vir haar skouer ontwikkeling doen (ja, spring, want die muise is blykbaar springhaasmuise). Daar is egter ook tye wat dit minder prettig is. Wanneer jy net gou by die winkel wil in storm en die muis handeviervoet wil saam. Wanneer jy haastig is en sy haarself nie kan aantrek of die karstoel kan vas/los maak nie, want “muise het pote”. Wanneer iets rond gedra moet word en dit ‘n leeftyd vat want een item word op ‘n slag in haar mond aangedra. Ek moet haar 10/10 gee vir deursettingsvermoë. Dis nou al weke en sy is selde uit karakter (dikwels net omdat mamma baie mooi gevra het dat sy tog net vir ‘n kort rukkie ‘n dogtertjie moet wees, sodat iets spesifiek gedoen kan word).