My kinders was nog altyd gefasineer met vulkane. Ek weet nie werklik hoekom nie. Maar al te gereeld kom die fassinasie uit in hul verbeelding spel.

‘n Ruk terug het ons dus vir ons Wetenskap Maandag ‘n paar eksperimente gedoen wat die werking van ‘n vulkaan verduidelik. Ek ontdek die foto’s gister op my selfoon en wou dit graag deel.

Al die oulike eksperimente kom uit 150 Great Science Experiments

IMAG0966Ons het geleer dat hoë druk, geisers veroorsaak om uit te spuit. Ook dat die druk verskil veroorsaak word deur opbou van gas of hoë temperature.

Ons het geleer dat hitte opstyg en die rede is waarom magma na die aardkors beweeg. Ons het geleer van viskositeit (en heuning en skottelgoedseep met mekaar vergelyk) en dat dit bepaal hoe vinnig en maklik die lawa vloei en dus die vorm van die vulkaan beïnvloed. Viskositeit word beïnvloed deur hoe warm die magma is, asook van watter tipe rotse dit afkomstig is.

Ons het koeksoda en asyn gebruik om te wys dat vulkane CO2 vrystel. Dat CO2 swaarder as lug is en daarom sak en versmoring veroorsaak deur kerse op verskillende hoogtes in ‘n houer te plaas. Ons het ook sommer geleer dat dit net soos gewone lug onsigbaar is en juis daarom gevaarlik is. Dit het toe gelei tot ‘n gesprek oor Pompei en ‘n boek oor die wat die maats onlangs gelees het.

Ons het die opwindendste vir laaste gelos. Dit is nou om self rooi asyn by koeksoda te gooi en te sien hoe dit oorkook. In een van die houers het ons skottelgoedseep bygesit wat natuurlik nog meer skuim en reageer. Dit maak nie saak hoeveel keer ons die al gedoen het nie. Die kinders bly gek daaroor.  HTC9

Hulle het self besluit om ‘n koppie te probeer toe druk en te kyk wat gebeur. Dit was nie so maklik om die druk te laat opbou sonder dat die gas en skuim iewers ontsnap nie. Die 11jarige kom toe met die plan vorendag gekom om die koeksoda en asyn in ‘n proefbuis te sit en te kyk of dit nie beter werk nie. Met die eerste poging was hul te stadig en het hulle die prop te laat opgesit. Die tweede keer was egter ‘n sukses en het die prop lekker hoog die lug in geskiet.

IMAG0983