Ek besef elke dag meer en meer dat ons siele wat ons kinders tuisonderrig ons moet vrymaak van die skool manier van dink. Ons het nie ‘n klaskamer vol kinders wat ons moet bestuur nie. Ons word nie geëvalueer op die klas se vordering nie. Ons is nie ingeperk tot vier mure en droë handboeke nie. Hoekom op aarde sal ons ons kinders leer soos wat onderwysers dit doen? Meeste onderwysers sou immers self dit anders wou doen as wat daar van hulle wag word. Hulle kan net droom van die vryheid wat ons het. En tog is ons so onwillig om dit te benut.
Dis tyd om los te breek. Om vry te raak. Om die lewe en dit wat natuurlik gebeur in te span en nie daarteen te werk nie.
As my kinders in die skool was sou hulle van graad 1 af moes leer om al in Engels ook te lees en skryf. (Die feit dat navorsing al oor en oor bewys het dat dit nie bevorderlik is vir taal ontwikkeling, om formeel met ‘n tweede taal te begin voor die eerste taal vas gele is nie, is blykbaar irrelevant). Hulle sou moes sigwoorde leer tot dit by hulle ore uitpeul, speltoetse skryf en selfs al eksamen skryf (ja, noem dit maar assessering of ‘n toets reeks as dit jou hart laat beter voel).
Nou is hulle egter nie in die skool nie en benut ek eerder die kennis wat tot ons beskikking is. Ons het dus nog nie ‘n dag se Engels gedoen nie. Ek moet erken die plan was om die jaar te begin om hulle te leer lees in Engels. Dit blyk toe onnodig te wees (net soos dit onnodig was om hulle te leer lees in Afrikaans).
Ons bly immers in ‘n Engelse wêreld. Oral om ons is Engels, in die winkels, by die gimnastiek, net mooi oral waar ons kom! Hulle speel ook al lankal saam met Engelse maats en alhoewel daar soms krom en skewe taal uitkom verstaan hulle mekaar goed.
Die gevolg was dat toe my 2 lesers eers goed op dreef was met Afrikaans, het hulle self begin het om die Engelse woorde uit te pluis. En in een van daardie toe-ek-weer-sien-oomblikke lees hulle beide vlot Engels! Dit het oor die Desember vakansie gebeur. Hulle het elk al 6 van Rex Stone se Dinosaur Cove boeke gelees (onder andere die dubbellengte Lost in Jurassic en Journey to the Ice Age). My amper 8 jarige lees ook nou te lekker aan die Little Animal Ark reeks van Lucy Daniels en Sheltie reeks van Peter Clover. Ouboet verkies nog om meeste van die tyd eerder Afrikaans te lees. Ek gaan hom nie keer nie. Ek weet nou hy kan Engels lees en doen dit ook as ‘n boek sy aandag trek.
En so saam met al die lees sien ek begin hul spelling my ook verbaas. Wanneer het hulle geleer om al die woorde te spel?! Hulle het dit geleer deur die woorde genoeg reg gespel te sien. Dit het moeite vry gebeur.
So kom die besef net weer dat ons nie deur al dieselfde take as die skool hoef te gaan om dieselfde dinge te bereik nie. Ons kan ons eie weg vind en op ‘n meer natuurlike manier leer. Dit is in elk geval baie meer pret!
Moet nooit die waarde van voorlees en self lees onderskat nie. Dit maak wêrelde vir kinders oop, dit ontwikkel hul verbeelding, bou emosionele intelligensie, ontwikkel hul kreatiwiteit en ontwikkel probleem oplossing. Plus ‘n kind wat hou van lees is nooit verveeld nie! Maar beste van alles hulle ontwikkel ‘n groot woordeskat en leer hoe om hul self goed uit te druk. In ‘n samelewing wat mense se intelligensie meet aan hul taalgebruik is dit ongelooflik waardevol!!!!
So pak weg die speltoetse en woordelyste en gryp eerder ‘n boek om te lees!
Wonderlik… wens die skole lees ook hier.
Ek beny jou, jou kinders se talent met lees. Dit is die een ding wat baie moeilik is vir my twee. Gee nou weer vir hulle wiskunde, tekeninge, wetenskap met eksperimente, enige iets oor diere, en woorde met prente en beskrywings daarby, en hulle slurp dit op en onthou soos konings. Hulle het geen probleem met begrip as ek vir hulle stukke voorlees nie, Afrikaans of Engels. Maar ai die self lees. Plein woorde met niks daarby nie is ‘n stryd. Ek moet darem ook erken die nuwe kaartjie metode waarmee ek hulle help van laasjaar af, help verskriklik baie en albei vorder nou fluks.
So geniet jou klomp se leesvaardigheid, want dit is definitief nie so eenvoudig vir almal nie.
Ek besef al meer dat kinders net soos ons sterk en swak punte het. Dit vat ons soveel langer om sommige dinge te bemeester wat vir iemand anders baie meer natuurlik kom. Maar met tyd raak ons dit ook baas (ja, dalk nie almal ewe goed nie, maar as ons iets wil doen kan ons leer om dit te doen). Ek vermoed deur ons kinders te los om eerder stadiger te bou aan hul swak punte, hulle eerder die ontwikkel as wanneer ons druk en trek en stoot.
Geniet jou kinders se sterk punte en fokus eerder op die vordering wat hulle maak as om vas te kyk in waar die “gemiddeld” veronderstel is om te trek. Lees sal ook iewers in plek val vir hulle. En dan gaan dit groot vreugde bring vir hulle.