Die grootste hoogtepunt van my jaar is dat my oudste 2 kinders die wonder van lees ontdek het. Hulle is 7 en 9 en alhoewel hulle 2 jaar in ouderdom verskil het beide hierdie jaar vir die eerste keer ure spandeer om te sit /lê en lees. Hulle het elkeen digby die 100 boeke in die jaar gelees. Sommige boeke het beide geniet, maar oor die algemeen verskil hul belangstellings baie. Natuurlik was daar ‘n klomp kort stories in, maar ook ‘n hele paar waaroor ek vestom was. Ek sou nooit kon dink dat hulle op die ouderdom al van die stories sou lees en geniet nie. Boeke wat vir my by my oudste uitgestaan het was: Pippie Langkous van Astrid Lindgren, Slaaptydstories 1 en 2 van Arthur S. Maxwell, Danda van Chris Barnard, Hy leef van Jenny Tripp, Die groot dierstorieboek van Human, Jakkals wat plante eet, wat wou van Rosalind Kerven, Wit oemfaan van FA Venter, Speurder Proppie van CS Badenhorst en hy het ook elke Kuifie en Astrix en Obelix wat hy sy hande op kon kry gelees.
Ons 7-jarige het my net so verras deur onderandere die jaar Pekel van Linda Yeatman, Slaaptydstories 1 en 2 van Arthur S. Maxwell, Jakkals wat plante eet, wat wou van Rosalind Kerven, Jakkals en Wolf van Grobbelaar en Verster, Die groot dierstorieboek van Human, Alida se verrassing van Hilda Grobler en Soekie se maats van Ela Spence. Sy is ook mal daaroor om gedigte te lees en geniet dit om deur die ou Gesange en Psalm boek te lees. Of sommer net in haar Bybel. Ek ken nie baie graad 1 kinders wat self die klas boeke lees nie. Die gevolg is dat sy ‘n ongelooflike woordeskat vir haar ouderdom het. En dit verbaas my altyd dat sy die foute in die boeke raak lees. Dalk is sy ‘n proefleser in wording…
Dit is altyd heerlik om hierdie tyd van die jaar deur al ons foto’s te blaai en weer al die lekker te beleef.
Ek het nie juis mooi foto’s om te deel nie, maar soos altyd het ons die atletiekdae vreeslik geniet. My oudste 2 sien reeds baie uit na die volgende een wat kom in die nuwe jaar. Daar is maar net ‘n anderste lekkerte aan so ‘n dag.
Ons geniet steeds ons wetenskap saam met maats elke week. Hoeveel altyd vassteek weet ek nie, maar die saam leer en speel is heerlik.
Nog iets nuuts waarmee ons die jaar begin het was Vlytige Vrydae. Sjoe, en het ons dit geniet. Dit was wel net een keer ‘n maand en nie altyd dieselfde maats nie, maar die saam skep is hope pret.
Ek het ook net weer die jaar besef hoe die Here vir ons sorg ook in die klein dingetjies. So wil die kinders ‘n skootboek maak oor bye. Ek neem boeke uit en terwyl ons nog die lees en alles reg kry, klop een van die bure die Sondag aan ons deur. Hy’s ‘n byeboer en het verby gestap en gehoor daar is ‘n swermbye in een van ons bome. Net daar skop die beste bye les ooit af! Die oom vertel van bye, hoe hul trek, die kinders help om die koningin in ‘n korf te kry. Hulle sien en hoor die verskil tussen hommels, werkerbye en die koningin.
So tussen deur het ons ‘n hele paar interessante kuns projekte begin. Baie het die kinders self uitgedink. My gunsteling is al die prentstories.
My oudste was veral geïnspireer deur Eric Carle se illustrasies. Wat begin het as ‘n paar prente het geëindig met ‘n hele storie oor Slakkie-slak se avonture. Kompleet met voorblad en agterblad (met ‘n beskrywing van sy storie). Hy’t die plan in sy kop om dit nog af te rond en te druk en verkoop by die volgende entrepreneursdag. Ons sal moet sien of ons daar by uit kom in die nuwe jaar.
Maar die jaar sal ons seker altyd onthou as die jaar waarin Kolle-kuiken (tydelik) deel van ons gesin geword het. Vandat hy/sy leer vlieg het word daar heelwat weg van die huis gekuier (gereeld by ons bure wat ‘n swembad het). En die dag wat Kolle beter weivelde gaan soek is seker nie ver nie. Tog was die tydjie saam met hom/haar ongelooflik. Ek sou nooit kon raai dat ‘n gans soveel persoonlikheid kon hê nie.
Hierdie jaar was ek nie te goed met die deel van al ons avonture hier nie. Ek was heeltemal te besig met my Somme(r) Pret reeks en die opstel van ‘n digitale produkte winkel. Dit is alles baie nuut vir my en ek leer ongelooflik baie. Ek gaan seker nog ‘n ruk daarmee besig wees, want die jongste toevoeging Somme(r) Pret Begin kom begin van die nuwe jaar ook in harde-kopie uit. Daarby is ek aan die vertaal van die boeke en skep ek steeds nuwe wiskunde pret-pakke. Ek geniet die nuwe projek van my vreeslik baie. En hoop dat dit sal groei saam met die kinders. Baie dankie aan elkeen van julle wat my ondersteun het die jaar – deur aankope, met proeflees en raad. Sonder elkeen van julle sou dit steeds net my eie kinders gewees het wat dit wat ek skep geniet het.
Ek kan nie wag om te sien wat 2017 vir ons inhou nie!!!
Sjoe, Lomi, ek is baie beïndruk met alles wat julle dié jaar vermag het. Maar weet jy wat val my die meeste op? Jou kinders se blink, blink oë. Sterkte vir 2017 en al julle planne. Mag dit baie geseënd wees.
Baie dankie. Dis juis daai blink ogies wat elke dag die moeite werd maak.