30 November 2018
Share

Presies 2 jaar (op die dag) na ons vir Kolle die kolgans gevind het het ons weer ‘n kolganskuiken gekry. Die keer was dit nie ek wat hom by die huis aan gebring het nie, maar manlief.

Op die grootpad het hy verby gery waar kinders die kuiken oor die pad heen en weer jaag. Hy’t besluit hy sal moet stop en die kuiken en die kinders red voor daar ‘n tragiese ongeluk is.

IMG_6125

En so was daar skielik weer ‘n ganskuiken in ons huis. Die van julle wat ons “Kolle Kuiken kry ‘n gesin” storie gelees het sou dink dat ons teen die tyd al hope weet van kolgans groot maak. Maar nes kinders groot maak is nie een gansie dieselfde nie.

Die grootste uitdaging was dat hierdie een al so 3 dae oud was en sy ma met mag en mening gesoek het. Hy het ons nie net aangeneem as sy gesin van die eerste oomblik af nie. Die eerste paar dae het hy nooit geëet as ons hom uitgevat het nie. Die oomblik wat hy buite was het hy geskree vir sy ma en begin soek na haar. En kon hy spring!!! Die oomblik wat hy in ‘n groot boks gesit is het hy begin spring om uit te kom!

IMG_6301

Na ‘n paar dae was hy rustig hier, maar sou nog steeds bly soek vir sy ma as ons hom op enige uitstappie neem.

Een ligpuntjie was dat hy al goed water gewoond was en duidelik naby water gebly het voor ons hom gekry het. Die gansie wou ook niks weet van kuikenvoer nie. Doempies het wel, soos Kolle, die Maltabella in sy drinkwater geniet, maar verder het hy net van vars grassaadjies geleef en hope paddavissies. Dit het beteken dat ons gereeld op die grasperk moes sit en grassaadjies bymekaar maak vir die nag, want ganse eet 24 uur van die dag en hy was beslis nie groot genoeg om alleen in die tuin te slaap nie!

IMG_6502

Die volgende groot verskil is dat hy nie gek is oor die honde nie en dus nie maats gemaak het soos Kolle nie. Veral die een hond wil so graag met hom speel, maar hy blaas net vir hom en selfs toe hy net 57g groot was het hy die grote rifrug rond gejaag!

Een ding is ek van seker: Doempsie en Kolle is nie dieselfde geslag nie. Ons kon nooit met sekerheid weet of Kolle ‘n mannetjie of ‘n wyfie was nie, maar die een is beslis die ander geslag. Sy gedrag is net heel anders. Als word rond gejaag en wil hy mee baklei. Hy gee ook nie drukkies soos Kolle nie, maar is mal daaroor om op of teen iemand te sit/slaap. En soos hy nou groter word is die klankies ook anders.

IMG_6815

Hy’s nou 9 weke oud en loop die laaste paar dae aanmekaar weg dam toe. Daar het hy selfs by die een dam begin swem saam met van die ander ganse. Kolle was nie so gelukkig nie. Waar ons toe gebly het was daar net een dam en daar het die ander kolgans hom onmiddelik verjaag as hy by die dam gekom het.

Ek hoop van harte die gans se storie het ‘n beter einde en dat hy ‘n tuiste by een van die damme vind en deel van ‘n gansgesin word. Intussen bekommer ek my nog snags oor hom, want daar is nie nou ‘n woef wat hom kan veilig hou nie. Tot hy die vlieg-ding onder die knie gekry het (hy is woes aan die oefen) is daar maar baie gevare vir ‘n jong gans op ‘n plaas.

As julle ons gans inkleurprente in “Kolle Kuiken kry ‘n gesin”  geniet het is hier nog ‘n paar nuwes van Doempies.