9 September 2016
Share

Jare terug was ek een van vele 17-jariges wat vir die soveelste aanleg en belangstellings toets gegaan het. Een van vele siele wat net nie geweet het wat op aarde ek veronderstel is om na matriek met myself aan te vang nie.

Met die laaste poging was die slotsom van die hoog geleerde dame dat ek sal moet kies. Ek gaan nie ‘n beroep vind waarin ek my kreatiewe sy met ‘n intellektuele uitdaging gaan kan kombineer nie. Een sal my werk moet word en die ander ‘n stokperdjie.

Tog het ek steeds probeer. Ek was nie lus vir die mans gedomineerde wêreld van ingenieurswese nie. Ek het afgeskop met landskapargitektuur. Gou besef ek is gek oor die kreatiewe werk, maar ek kort ‘n syfer uitdaging. Weer was dit ek en ‘n beroepsvoorligter. Ek het weerkunde gaan studeer en toe gespesialiseer in klimaat. Daarna ‘n paar jaar as navorser gewerk. Ek het die werk geniet, maar tyd vir kreatief wees was daar nie juis nie.

Deur dit alles het ek geweet ek wil eendag ma wees, maar ma’s moet tog ook iets doen… Mens kan mos nie net ‘n ma wees nie? Dit was voor ek ooit gedroom het dat ek ‘n ma sal word wat tuisonderwys doen.

En toe skielik besef ek die week, die voorligters was verkeerd. Daar is ‘n werk waarin mens intellektueel uitgedaag kan word en steeds kreatief moet dink. Mens noem dit ma-wees. Ek het ver gesoek. Hope geld betaal. Net om te vind dit wat ek veronderstel is om te doen het nie ‘n graad of hope opleiding nodig nie.

Die lewe loop soms snaakse draaie met mens. Dankie tog dat ons ook met ompaaie kan kom by wat ons moet doen.

As jy nog soekend is na daardie iets, hou moed. Dit is nie so onbereikbaar soos jy mag dink nie. Die antwoord is dalk meer voor die hand liggend as wat jy ooit gedroom het.