29 December 2021
Share

Hierdie jaar kry julle weer net ‘n blitsige kykie na ons jaar wat verby is.

Ons het weer die oujaar afgesluit met ‘n heerlike gesins-spele en oujaarsaand pret.
Die kinders was so bly dat hulle weer atletiek kon doen.
Veral my jongste het Edusense se Adventures of Bob White boekklub geniet.
Daar was weer lockdown oefen by die huis.
Ons jongste was in die sewende hemel dat sy ook nou kon gimnastiek kompetisies doen.
Grootsus het ‘n goeie kompetisie seisoen gehad. Sy’t eerste in die Weskaap gekom vir Artistiese gimnastiek en tweede vir tuimel. En by die SA’s met ‘n 2de plek vir balk en 5de algeheel weg gestap vir Artisties en 6de vir die Tuimel.
Ons oudste het net so ‘n goeie seisoen gehad. Hy was ook eerste in die Weskaap vir Artistiese gimnastiek. En by SA’s het hy 3de vir mansbrug en 4de algeheel geëindig.
Saam met die SA’s kon ons ‘n heerlike kort vakansie op die plaas inwerk en by familie kuier wat ons baie jare laas gesien het.
Die kinders het weer aan SACSSA se virtuele landloop deelgeneem.
Hulle het aan ‘n hele klomp olimpiades deelgeneem en so goed gedoen. In die World Maths Day het ons oudste eerste in SA gekom vir graad 8. Hy’t ook 2de vir graad 9 en 3de vir graad 8 gekom in die Living Maths Olimpiade. Middel sus het deur gedring na beide Wits en SAMC se wiskunde olimpiades en heel dapper SAMC gaan skryf tussen 150 ander graad 4-7’s. Haar eerste belewenis van ‘n skool. En kleinsus was diep trots op haar eerste plek in die Living Maths Olimpiade. Hulle het al 3 ook pragtige punte in die Conquesta Olimpiade gekry. Hulle het Platinum (88%+) vir al hul vakke gekry, buiten vir wiskunde waarvoor ons knaap 82% en middelsus 84% gekry het.
Die twee meisies het ook aan FAK se Afrikaanse Ekspo deelgeneem,. Hulle het goud vir hul voordrag en resensie gekry. En middelsus was ook die resensie wenner vir graad 6.
Die drie het ‘n stalletjie gehad by ons markdag en elk hul eie produkte verkoop.
Ons het weer saam met maats konsert gehou. Die kinders was bly om weer met fisiese musieklesse te kon begin.
Ons het lekker eksperimente gedoen.
Ons het ‘n week oue lemoenduifie gered wat kinders iewers uit ‘n nes gedief en aan sy stert rond gedra het in die straat. Die is nou al mooi groot en probeer gereeld kos van iemand se bord steel as ons buite eet.
Ons knaap is altyd besig om een of ander ding reg te maak. Hy het ook die heerlikste pampoen oes gehad en die jaar geleer om ‘n 3x3x3 “rubik’s cube” blitsig op te los en het amper al ‘n 5x5x5 opgelos.
Middelsus het leerwerk geleer doen as sy nie met haar neus in ‘n boek gesit het nie.
Ons jongste is altyd besig om prente te teken of verf.
Of sy is met iets anders kreatief besig soos om vir haarself ‘n pophuis te bou of leerwerk saam met middelsus te doen. Sy’t ook haar eie verjaarsdagkoek versier die jaar.
Ons het van nog ‘n hele klomp lande geleer.

Ons het heerlike boeke gelees en na stories geluister. Ons gunsteling die jaar was Gerald Durrell se My family and other Animals en Birds, Beasts and Relatives. Heerlike snaakse stories oor Korfu se mense en natuurlewe. Ons het Exploring Creation se Botany en ‘n goeie stuk van General Science gedoen. 15 Minute Afrikaans gedoen en weer van ‘n klomp komponiste geleer.

Ons kon die jaar afsluit met een van hul gunsteling aktiwiteite, bou met tandestokkies en Senties.

En beste van als kon my sus vir die eerste keer in 3 jaar kom kuier.