5

15 dinge om te doen tydens ‘n vakansie tuis

18 January 2016
Share

Soms gebeur dit dat mens met Jan-tuis-bly-se-karretjie vakansie hou. Wel eintlik gebeur dit hier al te dikwels. Die een ding wat ek oor die laaste paar jaar geleer het is om daarteen te waak om vakansies net aan te gaan met ons gewone roetine.

Ons het nodig om vakansies iets anders te doen, anders raak die jaar en dae net te saai. Dit wat eers lekker was raak super vervelig.

Hier is ‘n paar idees hoe om ‘n vakansie tuis op te kikker, sonder om vir ure voor die TV of elektroniese skerms te lê.

  1. Leer iets nuuts

Ja, ek weet…. Ons is verslaaf aan leer. Dit is net nie iets wat ons nie kan doen vir ‘n ruk lank nie. Tog, probeer ons gewoonlik om iets heel anders aan te pak oor ‘n vakansie.

So het ons al Scratch, code.org en Khan Acadamy se hour of code gedoen tydens vakansies. Die eerste en laaste sal ek aanbeveel. Code.org leer kinders deur speletjies te speel om te programmeer, maar is ongelukkig gevul met zombies, towerspreuke en veel meer wat nie vir my spruite geskik was nie. My knaap het bv daarmee die flappie speletjie gemaak voor ons besluit het dat dit nie vir ons gaan werk nie.

2. Begin met nuwe kunsvlyt

Dis altyd lekker om ‘n nuwe vaardigheid aan te leer. Deesdae met Youtube en die internet is dit so maklik om iets nuuts te leer. Die afgelope vakansie was ons egter so gelukkig dat my suster vir ons almal kon leer om armbande te loom. En ‘n vorige vakansie het ek die kinders geleer hoe om kruisiesteek te doen. Ons pop het dit so baie geniet dat ouboet ook wou probeer en toe die hartjie gemaak het.

201570

3. Maak geskenke

Kinders is altyd mal daaroor om geskenk te maak en daar is altyd ‘n ouma/oupa of ander familie lid wat versot is op hul skeppings. Die vakansie het ek op die oulike idee afgekom om handafdrukke met foto’s in te maak. Die kinders het die orige klei gebruik om ander skeppings te maak. Ongelukkig het ons nie baie sukses met die soutklei gehad nie. Van die hande het mooi gebak en ander het gekraak. Ons knaap moes 3 keer syne oor maak voor ons suksesvolle hande gehad het om vir die ouma’s te gee.

Ons het toe Dala se air drying clay gebruik om nog ‘n stel te maak. Hierdie mamma wil immers ook handjies kan bere. Dit het soos ‘n bom gewerk en is baie ligter en dunner as die soutklei weergawes.

201571

4. Ontdek jul omgewing

Gewoonlik is dit die toeriste wat ‘n area die beste verken en nie die plaaslike inwoners nie. Benut die vakansie en gaan op soveel uitstappies as moontlik.  Alles hoef ook nie geld te kos nie. Besoek parke en natuur reservate – stap heerlik rond of hou ‘n piekniek.

SAM_4584

5. Speel met water en sand

Vir oud en jonk bly water altyd ‘n groot aantrekkingskrag. Voeg daarby sand en enige kind is gelukkig. Benut elke kans vir die kinders om in die modder te speel, sproeier te hardloop, te “slippy slide” of in ‘n swembad te swem. En as dit te koud is vir water pret kan hul steeds water eksperimente doen of maansand maak en daarmee speel.

6. Hou ‘n skattejag

Daar is min dinge so opwindend soos ‘n skattejag. Versteek leidrade en ‘n skat en staan terug om die vreugde te beleef. Die kinders het dit so baie geniet dat hulle sommer hul eie skattejag ontwerp het vir die grootmense.

201565

7. Hou ‘n tema ete

Soveel herinneringe word geskep rondom die etenstafel. Dek mooi of kies ‘n tema en maak een ete sommer net iets anders.

201569

Ons het 2 jaar terug begin om nuwe jaar ‘n groot geleentheid te maak vir die kinders. Die jaar was daar die aftel tot ou oujaarsaand. Ons het saam spyskaart uitgewerk met hul gunsteling eetgoed op en die kinders het saam help kos maak. Hulle het partytjie hoedjies vir almal ingekleur. My sus het vir ons die oulikste plekmatjies ontwerp om in te kleur tydens ete. Natuurlik was daar malvalekkers om te braai, gloeistokkies om die lang wag korter te maak en ‘n nuwe DVD om saam te kyk. Die jaar se nuwe jaars-pakkie was propvol kunsvlyt goed vir die nuwe jaar. Die is ook sommer dadelik ingespan.

Ons het heelwat pret gehad. Ek moet egter noem dat tot middernag wakker bly altyd beter klink voor en na die tyd. Beslis nie die volgende dag. Iewers sal kleinsus dalk ook begin deel in die laat nag pret en bietjie later inlê die volgende more en dan mag ek dalk anders daaroor voel.

iPhone

8. Lees ‘n goeie boek voor

Ons is mal oor voorlees, maar ek weet ook dat almal nie altyd tyd of energie het vir dit nie. Vakansie tyd is die perfekte tyd om ‘n goeie boek voor te lees. Lees elke dag ‘n hoofstuk saam. Die tyd saam is baie spesiaal.

9. Kleur saam in

Ek het onlangs vertel van die lekkerte van inkleur. Vakansie tyd is ideaal om die potlode/ verf uit te haal en saam te ontspan rondom ‘n inkleurprent. Dit bly ‘n groot verrassing om te sien hoe die eindproduk lyk met elkeen wat sy bydrae gelewer het.

IMG_0155

10. Hou ‘n gesin/familie sport/pret dag

201567

Ons gesin spele is nou al ‘n jaarlikse instelling. Wanneer dit plaasvind is egter nie vas nie. Die jaar het ons dit tydens die somervakansie gedoen en selfs die hond het gedeel in die pret. Die hoogtepunt was die “Ten pin bowling” – Sommer met ‘n speelstel wat die kinders as verjaarsdag geskenk van maats ontvang het.

201566

11. Bou saam strukture

Bou saam lekkergoed en tandestokkie strukture. Jellytot tipe lekkers werk die beste. Natuurlik is ‘n groot deel van die lekkerte die eet agterna.

HTC18

12. Speel ‘n nuwe kaartspeletjie

Speel saam ‘n nuwe (of ‘n ou gunsteling) kaartspeletjie. Gunsteling onder my kinders is “oumatjie” (Old maid), Stat-it, Uno, “happy families” en ‘n resies trok “trump game”.

Ons knaap het ook die vakansie Solitêre herontdek en dit het hom ure besig gehou.

13. Bou saam ‘n legkaart

Die legkaart bou tradisie kom al ‘n lank pad. Ons het altyd dit tydens gesinsvakansies gedoen – nog lank voor daar gedagte aan trou en kinders kry was. Dit is ‘n tradisie wat ek voortgesit het en die laaste jaar of twee begin die kinders heerlik saam bou. Kleinsus veroorsaak nog gereeld chaos en ek is oortuig om bou eintlik die legkaart ‘n stuk of 4/5 keer voor dit by voltooi uit kom.

DSCF0356

14. Speel ‘n nuwe speletjie

Gaan soek vir ‘n nuwe speletjie om saam te speel. Nie een op ‘n tablet nie. Een met regte speelstukke. Hier is van ons gunstelinge (die gewildste speletjie IQ Twist was natuurlik skoonveld toe ek ‘n foto wou neem)

DSCF0866

15. Kampeer in jou eie tuin

Slaan kamp op in jou eie tuin. Al is dit net vir een nag. Braai malvalekkers oor die kole en luister na die nag geluide. Mens besef nie altyd hoeveel vreugde die klein dingetjies vir kinders bring nie.

DSCF6814