Ek weet met die skielike lang vakansie is baie ouers bekommerd dat hul kinders se skoolwerk gaan agter raak. As jy wel in die tyd self kan tuis wees is dit die ideale tyd om dit wat die kinders by die skool geleer het prakties te maak en so te verseker dat hulle ‘n voorsprong in die nuwe nuwe kwartaal het.
Meting is iets waarmee kinders dikwels sukkel. As hul dit egter eers prakties gedoen het is dit soveel makliker om te verstaan. Hier is ‘n paar idees om dit tuis te doen.
Meet verskillende voorwerpe. Jonger kinders kan voorwerpe meet deur hul hand of voet as maatstaf te gebruik. Ouer kinders kan ‘n liniaal of maatband inspan. Om dit meer pret te maak kan julle ‘n plan van ‘n vertrek in die huis teken. Meet die vertrek se grootte en meet dan die verskillende meubelstukke en teken dit op skaal op die plan. Of as julle bietjie vars lug soek, maak ‘n plan van die tuin met die verskillende beddings ens. Vir ekstra opwinding gebruik die plan om ‘n skattejag te hou!

‘n Plan wat my knaap van sy groentetuine geteken het
In die kombuis is daar nog meer geleentheid vir meet. Natuurlik is bak en brou ‘n lekker manier om dit te doen. Tog kan julle selfs sonder bestanddele dit doen. Gebruik ‘n kombuisskaal om verskillende voorwerpe te weeg. Meet ‘n paar voorwerpe en kyk dan wie kan skat wat die ander gaan weeg. Of neem ‘n maatkoppie en verskillende houers. Gooi 1 maatkoppie vol in elke houer. Is die houers ewe vol? Hoeveel maatkoppies sal dit neem om ‘n spesifieke houer vol te maak?
By die wasbak draai die kraan ‘n klein bietjie oop. Span nou ‘n stophorlosie in en kyk hoe lank dit neem vir verskillende houers om vol te loop. Julle kan vooraf skat hoe lank julle dink dit gaan neem. Hoekom neem dit langer vir party houers om vol te word as ander? Gooi die water oor in ‘n maatbeker, sodat hul kan sien wat die volume verskille is.
Ek het ook ‘n paar gratis produkte beskikbaar wat julle tuis kan inspan by https://lomi.co.za/sommer-pret/. Die skakels is in onderste helfte van die blad.
Nog ‘n maklike aktiwiteit om te doen is voorlees. Nee, dit is nie net om die tyd om te kry nie. Voorlees bou kinders se woordeskat en taalbegrip. Daarby help dit empatie ontwikkel en skep dit geleenthede om interessante gesprekke te hê. In alle vakke is leesbegrip belangrik, so met die eenvoudige aktiwiteit gee jy hul ‘n hupstoot vir elke liewe vak (ja, selfs wiskunde).
Dit is ook nie net vir voorskoolse kinders nie. Jy kan selfs vir jou tiener voorlees. Juis vir hulle is dit handig om aan ander idees bloot gestel te word en daaroor gesprekke te voer. Hulle word ook blootgestel aan goeie taalgebruik en kan hoor hoe woorde uitgespreek word wat hulle dalk nog net op papier raak geloop het.
Ons lees op die oomblik Gelofteland van FA Venter. Buiten dat dit ‘n terugblik op die geskiedenis is is dit goed om te besef daar was ‘n tyd wat mense met minder moes klaar kom. Waar hul ook afgesonder was en siektes dikwels tot grootskaalse sterftes gelei het. Ons kon ook al lekker gesprekke hê oor wat die invloed van die gebeure op die ongeveer 180 jaar daarna was. Hoe dit steeds ‘n invloed het op ons land se mense en hul verskillende perspektiewe. Ons kon praat oor die goed en sleg wat voortgespruit het uit die Groot Trek. Oor kultuur verskille en hoe ons dieselfde situasie verskillend interpreteer vanuit daardie kultuur en agtergrond.
As jy soek vir idees van goeie boeke om voor te lees gaan loer gerus na Die wonder van lewende boeke waar ek die boeke deel wat ons geniet het en uit geleer het.
Een van die grootste pluspunte van die huidige COVID-19 situasie is dat ons tyd saam met ons geliefdes kan spandeer. So dikwels as ons tyd saam het gaan doen ons goed. Natuurlik is dit goed om saam op uitstappies te gaan, tog is dit maklik om in die proses steeds by mekaar verby te leef. Om nie regtig diep en betekenisvolle gesprekke te hê nie. Nou is egter die ideale kans om mekaar beter te leer ken en verstaan. Nie net ouers en kinders nie, maar ook boeties en sussies. In ons samelewing is kinders geneig om meestal tyd saam met hul porteurgroep te spandeer. Nou het hul weer die geleentheid om buite daardie raamwerk te beweeg.
Natuurlik is dit ook ‘n goeie kans om bietjie “huishoudkunde” vaardighede te ontwikkel. Met die druk van huiswerk en sport na skool het baie gesinne nie tyd om saam kos te maak of saam huis skoon te maak nie. Nou kan julle saam die aktiwiteite aanpak. Dis handige lewensvaardighede en help beslis om ‘n dag tuis korter te maak.
Sterkte vir almal wat tuis vasgevang is. Dis maar vir ons tuisskolers ook ‘n aanpassing. Ons “skool” mag dalk tuis gebeur, maar ons is immers ook gewoond daaraan om dikwels rond te rits na sport en om op uitstappies te gaan en te gaan kuier by vriende. Om elke dag tuis te spandeer is ook nie vir ons normaal nie.
NS. Pasop vir teveel skermtyd. As mens so tuis is is dit maklik vir kinders om die grootste deel van die dag voor ‘n skerm deur te bring. Dis glad nie produktief of goed vir hulle nie. Maak sommer nou vroeg in die “vakansie” reëls rondom hoeveel tyd hul voor ‘n skerm mag deur bring, sodat daar hope tyd vir ander dinge kan wees.