4 January 2020
Share

So het nog jaar verby gevlieg! Elke jaar voel dit vir my asof ons nie veel bereik het nie. En dan gaan sit ek om ons hoogtepunte neer te skryf en staan verstom. Hierdie uitstappie help my om perspektief oor die jaar te kry. Om nuwe moed vir die nuwe jaar en sy uitdagings te skep. Dis so maklik om terwyl mens in die jaar en sy dinge vasgevang is dit mis te kyk wat ons als bereik het.

Soos die laaste paar jaar al het ons 2018 afgesluit met ons gebruiklike gesinsspele. Dit het ‘n heerlike tradisie geword waarna ons elke jaar uitsien.

2018

En dan is daar die ingang na die nuwe jaar. Die laat nag bring hope pret (en moeë ouers). Die jaar het ons deel van die aand ook ‘n klein prysuitdeling gemaak om ons kinders se prestasies van die jaar te vier. Die boeke wat hul gelees het, die ontwikkeling van hul karakter en ander prestasies. Die 3 het ook besluit dat hulle vir ons ‘n eindjaar konsert wil gee.

20181

Ons het die skooljaar afgeskop met ‘n heerlike morsdag saam met maats.

IMG_7342

Terwyl ons die 16de Januarie buite staan en kuier het saam met ons buurvrou raak my meisiekind vreeslik opgewonde en beduie ons moet kyk na die verskietende ster. Ek was toe net betyds om die laaste stukkie gloeiende bal te sien en die rook stert. 3 minute later het ons eers die slag te hoor. Sy het toe ‘n skets gaan maak van die gebeure (kort voor dit was daar duisende swaeltjies in die lug wat skielik na die teenoorgestelde kant van waar die meteoor later geval het verdwyn het.). Natuurlik het manlief toe die kans gebruik om vir hul die wonder van wetenskap te verduidelik deur uit te werk waar dit waarskynlik geval het (deur die rigting en afstand bereken in ag te neem)

IMG_7379

Die jaar was dit die eerste keer dat al drie my spruite kon deelneem aan atletiek en al drie het deur gedring na SACSSA se provinsiale atletiek dag. Die 2 meisiekinders het met medaljes van die dag af tuis gekom.

20196

Die besef dat ons oudste ‘n jongman begin raak het begin inskink. Die jaar wou hy nie ‘n partytjie hou nie, maar eerder saam met sy vriende ‘n braai hou.

IMG_7570

Net na ons van Rembrandt gelees het in Lig in die donker deur Karl Schoeman het ek ontdek dat daar ‘n Rembrandt uitstalling net om die draai van ons is. Dit was so interessant om toe te gaan kyk na van sy werk en hoe etse gemaak word.

20191

Ons het weer heerlik konsert gehou en daarna gebraai saam met ander tuisskool gesinne.

20197

Die kinders het my beïndruk met hul Conquesta en Living Maths Olimpiade uitslae. Ons oudste het platinum vir wiskunde, Afrikaans en Engels en sus het platinum vir Afrikaans en diamant vir wiskunde en Engels gekry vir die Conquesta. Hulle het ook vir die eerste keer al 3 die Living Maths Olimpiade geskryf. Kleinsus het 2de vir graad R gekom en die ander twee was beide 3de, vir graad 4 en 6 onderskeidelik.

IMG_8546-001

Vir maande het hulle uitsien na die River Challenge. Die gaan beslis ‘n instelling in ons jaar se beplanning word.

20198

Die oudste 2 se vordering in musiek het my werklik verbaas. (Ek moes seker geweet het dit gaan ‘n jaar van musiek wees toe ons in die eerste week van die jaar ‘n klavier en huisorrel present gekry het.) Beide het Mei hul graad 1 ABRSM praktiese eksamen geslaag (ons pop sommer met meriete), dit na hul maar eers ‘n jaar voor dit begin het met viool en tjello. Ek is seker baie daarvan is te danke aan ‘n ongelooflike musiek onderwyser. Miskien is die ongelooflikste ons jongste wat die deuntjies op die klavier na probeer speel en dit verbasend goed reg kry.

201912-001

Ons oudste meisiekind is mal oor gediggies (en stories) skryf en haar eie liedjies op die klavier uit te tokkel. Sy het toe sommer besluit om een van die gediggies te toonset en nou speel sy dit op die klavier terwyl sy dit sing. Dit was ‘n interessante uitstappie om die note neer te skryf.

Al 3 die spruite geniet gimnastiek vreeslik baie. Ons jongste het haar eerste kompetisie agter die blad. Sy was so opgewonde om saam met haar sus te kon gaan tuimel en is so trots op daai medalje. Vir 6 jaar sit sy immers deur al die kompetisies en dit was dus vir haar ‘n groot lekkerte om nou ook deel daarvan te kon wees.

201914-001

Ou sus het ‘n meer uitdagende gimnastiek jaar gehad. By die distriksproewe het sy eerste gekom in tuimel, eerste vir brug en derde vir spronge. Sy’t ook by die Kaapstad Madiba Cup eerste vir tuimel gekom. Net na die distriksproewe het sy egter haar enkel verstuit. Die gevolg was dat sy die Weskaap proewe vir tuimel moes uitsit en haar ma se senuwees klaar gehad het vir die artistiese proewe kort daarna. Sy kon maar 3 dae weer oefen voor die proewe (en ‘n skeef trap op daai tydstip kon katastrofaal gewees het). Wonder bo wonder het sy steeds die Weskaap span gemaak. Ek is trots op haar dat sy bly oefen het (dit is immers nie veel pret as jy net aan basiese fiksheid moet werk en niks van die lekker werk kan doen nie). Dit het nie ongesiens verby gegaan nie want sy het die klubtoekenning vir die hardwerkendste vlak 4 gimnas gekry. En ek’s dankbaar vir afrigters wat saam met haar deur die herstel proses gewerk het.

Ons oudste het ‘n baie geseënde gimnastiek jaar gehad. Nadat hy laas jaar by sy eerste SA’s ‘n tweede plek vir vloer (5de algeheel) behaal het was sy mikpunt vir die jaar om daarop te verbeter. Hy het regtig hard gewerk. Tot op die punt waar hy party dae wou huil van die inspanning. Die knaap is nie van die talentvolste gimnaste nie, maar hy weet hoe om skouer aan die wiel te sit. Die beloning was pragtig! Hy was algeheel eerste by distrik, tweede by Weskaap en derde by SA’s (met ‘n eerste plek in “highbar” en tweede in mansbrug).

Die knaap se groentetuin kom ook mooi aan. Sy grootste frustrasie is ‘n ystervark wat snags sy groente kom opvreet. Die einste ystervark het ons al in die nag opgejaag met sy nagtelike klanke.

201911

Ons meisiekind hou weer van naaldwerk en doen deesdae die stopwerk in die die huis. Sy maak ook vir die Barbies klere. Sy raak heel vaardig met ‘n hekel naald. Een van haar gunsteling aktiwiteite is om haar Little Petshop diertjies te teken. En dan strokieprent tipe prente wat ‘n storie of grappie vertel.

201918

Ons oudste is weer die probleem oplosser. Hy maak die ongelooflikste planne om met dit in en om die huis probleme op te los en om met sy lego masjiene te bou. Deesdae kry als ook LED liggies, batterye , ‘n motor en/of waaiers. In die proses het hy geleer van liggies in serie en parallel koppel, weerstande, kapasitors en vele meer. Hy bou dit uit ou komponente wat ons het en uit goed wat gebreek het se parte.

201920

Kleinsus se lees vorder. Sy kan al drieklank woordjies lees en wil op al haar prentjies woorde skryf. En hier teen die einde van die jaar wou sy net wiskunde doen dat ek later moes hokaai roep. Begin van die jaar was die juffrou beslis nie reg vir sit en werk nie. Maar skielik na haar 6de verjaarsdag in Oktober het sy ‘n hele jaar se leer in gedruk. Dis die wonderlike ding om met kinders te werk as hulle reg is vir leer eerder as om maande te spook met ‘n kind wat net nog nie daar is nie.

201910

Die meisiekind spandeer ure aan teken. Sy is net versot daarop en dit wat sy skep verstom my gereeld. Sy kyk net heeltemal anders na dinge en is nooit bang om iets te probeer teken nie.

201919

Ons het die jaar ‘n hoop legkaarte gebou. Dis iets wat ons graag vakansies saam doen.

20195

Soos altyd het ons ook weer heerlik gelees. Dit is moeilik om die jaar ons gunstelinge te kies. Dit was waarskynlik Roald Dahl se 2 outobiografiee (Boy en Going Solo) en Boris deur Jaap ter Haar. My meisiekind het ‘n leesuitdaging geword. Dit was werklik moeilik om haar te kry om minder te lees. Terwyl ek trots is op ons knaap wat my uitdaging om meer Engelse boeke te lees aanvaar het. Julle kan loer wat hulle gelees het by Leeslys van ‘n 12-jarige seun en Leeslys van ‘n 10-jarige dogter

Ons het heerlik verder gelees aan Kinders van die wêreld en die jaar oor nog 8 lande met hul geskiedenis, kultuur en godsdienste geleer.

Land waarvan ons geleer het 2

Ons het ook begin luister en leer van Klassieke musiek. Ek het die ou “The classical collection” en “The Magical music box” reekse ontdek. Nou kan ons luister na die musiek en meer oor die lewens agter die komponiste daar agter leer.

Ek dink een van ons grootste suksesse is dat die 3 kinders dit geniet om saam te speel. En hulle het die interessantste dinge saam ontdek. Hul waarnemings vermoee is ongelooflik en die geduld wat hul het om vir gediertes te sit en wag en hul “mak” te maak verbyster my.

201921

My Lomi digitale winkel het ook die jaar uitgebrei. Die jaar het kopieerboeke vir drukskrif en lopendeskrif die lig gesien. Aan die voorskool kant het ek vir my graad R’tjie ‘n Getal Aktiwiteitsboek, Roosterinkleurprente en Gimnastiek Pretpak geskep. Ek het die Dol Breuke speletjie geskep. En agter die skerms het ek aan my graad O-3 program gewerk. Ek is amper op die punt waar elke leerarea aktiwiteite/speletjies het. Natuurlik bied my jongste my nou die geleentheid om dit op haar uit te toets.