Maaltafels leer het die vermoë om een vet kopseer te word. Omdat dit so baie gebruik word in verskillende somme (nie net maal en deelsomme nie, maar ook ekwivalent breuke, faktorisering, oppervlak berekeninge ens) probeer ons gewoonlik om kinders te kry om so gou moontlik hul maaltafels te onthou.
Die probleem daarmee is dat ons dikwels in die proses wiskunde angs veroorsaak. Ons sit te veel druk op en gebruik spoedtoetse om kinders te probeer aanmoedig. Ongelukkig veroorsaak dit te veel stres vir baie kinders. En ‘n negatiewe assosiasie met wiskunde wat lewenslank ‘n invloed op hul verhouding met wiskunde kan hê.
Daar is hope manier om op ‘n lae druk manier kinders te help om stadig maar seker hul maaltafels te leer. Speletjies en blote herhaling werk goed. Ek het ‘n paar speletjies wat julle vir dit kan inspan. Loer gerus na Speel-speel maaltafels, Meeste maaltafels in ‘n ry, Nul of 24 speletjie, Maaltafelparkering en maaltafels teen tyd.
Maar hoe gemaak om intussen jou kind deur toetse/eksamens en elke dag se huiswerk te help? Wel daar is gelukkig ‘n kortpad! Ek het dit ‘n klompie jare terug ontdek en ons span dit steeds in. Mettertyd het ons die metode verfyn en besef dit is baie handig vir meer as net maal en deelsomme.
Die wonder van die kortpad is dat omdat dit van herhaling gebruik maak, kinders steeds stelselmatig meer en meer van hul maaltafels leer.
Ek deel met julle die kortpad in die video. Ek hoop dat dit ander kinders sal help en wiskunde minder van ‘n uitdaging maak.
[of kyk op YouTube by https://youtu.be/NHWQpbQ8e7A]
Ek het loseer by twee tannies in my Sub A en B jare. Tannie Willa het elke ofgend in die bed vir my tafels gevra. Vandag kan ek steeds beter maal as optel. Deel en aftrek het aan die agterspeen gesuig.
Ek onthou weer al daardie vreeslike spoedtoetse elke week. En alhoewel ek baie onthou is daar ‘n hele klompie wat ek tot vandag nog nie in my kop kon kry nie! Ek moet steeds elke keer eers weer ‘n sommetjie doen om die antwoord te kry.